Description
Rilling op rilling ruk deur sy lyfie. Oomblikke lank sit Christie verstard na Henri en kyk; voel hoe hy van haar wegglip. Sy kom vinnig orent, onbewus van die pyn van ure se kniel in haar knieë. Sy ruk die tentflap oop. Sy loop blindelings weg, die paar treë tot by die draad van die kamp. Sy vat die doringdraad in haar hande vas en ruk verwoed daaraan, onbewus van die skerp metaal wat in haar handpalms inskeur. Sy ruk haar kop op en kyk die naghemel in. “Nee!” Sy trek haar asem diep in. “Neel Dis nou genoeg! Nië . . . meer . nië! Los hom! Hy’s myne . . .”
Die oorlog van die twee Boererepublieke teen die magtige Brittanje stoot soos ‘n golf oor die grens die Kaapkolonie binne. Gewilliges en onwilliges word meegesleur al is dit nie hulle oorlog nie. Christie Villiers van Boesmanskloof en almal om haar word vasgevang in die oorlogsweb wat al hegter om hulle span.
Toef Taljaard wil nie betrokke raak nie. Marcel gaan veg en Jan Lotriet wéét wat hy wil hê — oorlog is ‘n dubbelspel, ‘n spel waarin verraad ook geld. Op die ou einde lei die swerfpaaie immer terug Boesmanskloof toe — na Christie Villiers toe.
Vlieg, duifie, vlieg! is ‘n oorlogsroman wat boei en die leser laat nadink.










