Description
Ná die hartomleidings moet Christian Lemmer deurentyd sy oog op die “varksnoet” hou; op die ongehoorsame hart, die benoude vuis in sy linkerbors.
Op Stellenbosch is sy naweekgesin: Christine met die vreemde verlange in haar, Siebert wat sorg vir opskuddings. In die Goudstad is sy besigheid, africart.com, wat hom neem na stede van die liefde: New York, Berlyn … Maar daar is ook ‘n geheime woonstel in Seepunt en die gruwel van Harare, waar hy op die spoor van méér as artefakte loop.
In die middelpunt is Lewis Stores se jaarlikse Suiderkruisderby op Matjiesfontein met sy amper magiese wedvlugduifkultuur en eksentrieke karakters: Miss Edelweiss, musiekonderwyseres, wat die vlaktes met haar metaalverklikker bewandel. En Snaartjie, dogter van Piet Windvogel, draadspanner en lekeprediker, sy wat selfs die duiwe met haar vioolspel bekoor.
Tussen die verskyning van die “rotmotor” op die N2 na Stellenbosch en Die Pister op Matjiesfontein, verdwyn Snaartjie en ontvou ‘n intrige wat hede en verlede bind tot ‘n fassinerende eenheid.










