Description
Marié Blomerus is ʼn bekroonde digter en skrywer. Haar herinneringe, vlugtige indrukke en woordprentjies vorm ʼn geheel rondom enkele temas: Namibië, die skrywer se aantreklike, eksentrieke familielede en haar jeug – tydstippe in haar lewe, sy dit in Namibië of Johannesburg, Pretoria of die Boland en haar reise in die vreemde. Daar is onweerstaanbare beskrywings van plekke en name, lieflike prosa soos die volgende: “Byna net soos by David Livingstone is verkenning in Schmelen se bloed en hy skaf ʼn poenskop-os, ʼn geweer en ʼn velkaros aan. Sy klere raak deurgedra en hy begin sy klere van velle maak. Die karos gebruik hy bedags as saal vir die os en snags as ʼn kombers.” Daar is fassinerende stukkies geskiedenis, woordbeelde van haar Oupa Suidwes, soos ʼn skraal koning in die veld, haar boheemse tannie Dora, haar mooie ma en ʼn familie wat saamsing en dans en graag lag. Daar is onvergeetlike reisbeskrywings en besinnings. Haar humorsin, nuuskierigheid en talent vir verwondering is tydloos.








