Description
Die stories, wat reeds sterk aanklank gevind het by Rapport-lesers en teatergehore regdeur die land, speel af in ‘n wit Johannesburgse voorstad, langs die treinspoor en tussen die mynhope. Dit is ‘n voorstad met skole, ‘n rooigordyn-fliek, ‘n OK Bazaar en die Hertzog- en Strijdomtorings op die horison. ‘n Voorstad waar pa’s met die trein werk toe ry en ma’s by die huis bly. Waar die strate na die maande van die jaar genoem is. Dis in die geweste waar die elfjarige Matthys Bothma deur die Blou Trein gestamp word. Op wonderbaarlike wyse oorleef hy en kry terstond die bynaam Vlieger. Die sestiger- en sewentigerjare word hier vars en helder herskep. Nostalgiese verhale met ‘n stewige skoot humor, en dikwels trane saam met die lagbuie.










