Description
“Oubaas en Mankoeran”
“Habakuk met ‘n blik kondensmelk”
“‘n Emmer tanne vir ‘n hospitaal holbekke”
“‘n Poort deur die koue”
Dit is met sulke vertellings dat Jan Spies ‘n gewilde gas in menige huis geword het en dit bly. Sy radiostories het tot vier boeke gelei, vyf met die versamelbundel Spieserye bygereken. En met sy bydrae tot Spies en Plessie – met permissie op televisie vermaak hy ook kykers oor die hele land ên oorsee. Maar as ‘n mens nou ‘n keuse van sy onderhoudendste stukke moet waag, wat kies jy? Dis die uitdaging wat sy TV-kameraad, P.G. du Plessis, aanvaar het. Hy het die innemendste, die snaaksste stukke gekies en dit kort en kragtig ingelei.
In hierdie bundel leef Jan se wonderlike karakters nie net in sy woorde nie. Fred Mouton, een van ons bekendste illustreerders en spotprentkunstenaars, gee ook sy interpretasie van hulle. As bonus is hier drie “nuwe” verhale. Een het Jan, op P.G. se aandrang, diep uit ‘n laai gehaal. Dis ‘n ongewone Spies-storie wat treffende hulde bring aan die vertellers van alle eeue. Die ander twee het Jan Spies nog net op spesiale versoek vertel: van die twee seuntjies se probleme met hul dom pa’s, en van die fris tannie wie se kerkrok nie reg wou sit nie.








