Description
Liegfabriek is Etienne van Heerden se eerste prosawerk na sy indrukwekkende roman Toorberg, wat bekroon is met die W.A. Hofmeyr-, die CNA- en die ATKV-prys. Soos in sy kortprosadebuut, My Kubaan — waarvoor hy in 1984 die Eugene Maraisprys ontvang het — benut hy hier ‘n wye register ervarings in eietydse Suid-Afrika.
Onder meer is daar die “liegfabriek”— ‘n advertensiefirma wat ‘n nuwe seksopkikkeraar moet bemark, ‘n rasegte Jersey-bul wat amok maak by ‘n politieke begrafnis, die reis van ‘n uitgestote gesinnetjie op ‘n donkiekar deur die verlore platteland, die dwalende soektog van ‘n fotograaf na sy naamlose fotogesigte, en die verhouding tussen ‘n swart vegter en sy gevange Afrikaner. Deurgaans tref die verbeeldingryke hantering van die woord, die fyn nuanses waarmee menseverhoudinge uitgebeeld word, en die besonderse vermoë tot situasieskepping. Boeiend is ook die wisseling in toon: van die nostalgiese tot die ironiese, tot ‘n byna wrang ontroering.
Liegfabriek is ‘n bevestiging van Etienne van Heerden se sterk, veelsydige talent ‘n belangrike toevoeging tot ‘n oeuvre wat reeds ‘n onvervreembare plek in die Afrikaanse letterkunde gevind het. Die skrywer het gewerk by ‘n prokureursfirma, ‘n reklamefirma, as dosent aan die Universiteit van Zoeloeland, en doseer tans aan die Universiteit Rhodes, Grahamstad.






