Description
Heenkoms is die tweede bundel van die digter Meyer van Rensburg. In 1983 verskyn Klankmanwoordboom (Human & Rousseau) wat die betekenis van klank in ‘n gedig ondersoek en ontgin. Nou, 38 jaar later, is daar Heenkoms. Heenkome, tuiskoms, afkoms, heengaan en al die ander versluierde betekenisse word deur hierdie titel opgeroep. In die afdelings Uittrek, Uitbeeld, Uitspraak navigeer hierdie digter die impak van vertrek uit jou land en aankoms in ‘n vreemde ruimte. Die “gekopuleerde klinkers van my klankbord” waarsku die programgedig, wat telkens die afskeid (en vertrek) uit die moederland (en moedertaal) ondersoek in verskillende verse. Pynlik, maar sober. En klank is hierdie digter se métier, ‘n voormalige klankingenieur by die SAUK en liedjieskrywer vir musiekkunstenaars.








