Description
Jansie Ziman weet daar het iets verskrikliks met sy vrou gebeur toe sy ‘n kind was. Hy weet Kleintjie het ‘n berader nodig, hy kan dit insien. En hy moet toegee, sedert sy hierdie Wanda-vroumens begin sien het, lyk dit asof daar iets van die vrag op haar skouers afgelig is. En dit sal seker help as Kleintjie, soos die sielkundige voorstel, haar verhaal begin neerskryf. Hy sal help lees, ja, hy weet mos wat om te verwag. Jansie Ziman het geweet, maar ook nie geweet nie. Weekliks kry hy ’n stapeltjie papier van sy vrou. Hy sukkel aanvanklik, maar leer later haar gedagtestroom verstaan. Dit is die weergawe van Kleintjie se gesprek met die sielkundige, kan hy sien, maar dit is ‘n maalkolk van ‘n gesprek, ‘n byna desperate skermutseling wat om en om tol om ’n donker gat, en stelselmatig in daardie donker gat afgesleur word. En daardie donker gat het ’n naam. Sy naam is Pastoor. Pat Stamatelos vertel op ’n skreiend aangrypende wyse die ware verhaal van ’n vrou wat as ’n jong kind in die hande van ’n pedofiel beland het – in die hande van ’n kerkleier wat sy duiwelswerk onder die dekmantel van jeugberading verrig. Dit is die verhaal van ’n kind wat deur haar lewensomstandighede in hierdie leeukuil gewerp is, die verhaal van ’n vrou wat stadig doodbloei aan die wond wat daardie pastoor haar toegedien het, met die hulp van haar pleegouers se ellendige onkunde. ‘n Mindere skrywer sou maklik hiervan iets sensasiewekkend kon maak, maar Pat Stamatelos se hantering daarvan is ’n noukeurige studie van ’n verwonde psige, en ’n onverskrokke oopvlekking van ’n kanker aan die hart van ons samelewing. Hartverskeurend en terselfdertyd absoluut aangrypend.








